top of page

KOSMOSNUUS | VOORBLAD / FRONT PAGE

tap.jpg
Waterkrisis in Bethal

Jannie Degenaar

BETHAL - Inwoners van Bethal gaan al weke lank gebuk onder ’n enorme waterkrisis - glo omdat die plaaslike munisipaliteit nie sy sowat R151 miljoen se agterstallige skuld aan die waterraad betaal nie.

Dié dorp se watertoevoer word tans met minstens 20% beperk nadat die Govan Mbeki Munisipaliteit glo versuim het om Rand Water, ’n skema wat water vanuit die Vaaldam aan dorpe in Mpumalanga verskaf, te betaal.

Volgens Marietjie Fourie, ’n DA-wyksraadslid in Bethal, beteken dit eenvoudig dat die dorp se water invloei stadiger is as die uitvloei. Sy sê ook dat Bethal staatmaak op gravitasie-verspreiding wat beteken dat hoogliggende gebiede weens die beperking nie water het nie, terwyl die onderdorp en die informele nedersettings steeds water het.

Sekere gedeeltes in die dorp wat die hoogste geleë is, is al die afgelope 13 dae heeltemal sonder water gelaat. Gebiede in die dorp soos Uitbreidings 3, 8 en veral Bethal Rand word die ergste geraak. Om sake te vererger, is daar ook gerugte dat die dorp se elektrisiteit binnekort afgesny gaan word nadat dit ook in 2017 vir ’n ruk lank weens agterstallige rekeninge afgesit is. “’n Mens kan dit wanbestuur noem. Die munisipaliteit betaal nie hulle rekeninge nie,” sê Fourie. Fourie voorspel dat die dorp in die nabye toekoms nie water sal hê nie. Daar is gevolglik verlede week, in samewerking met AfriForum, ’n gemeenskapsvergadering gehou om ’n tydelike oplossing vir die situasie te vind. Die gemeenskap het tydens hierdie vergadering besluit om tydelike waterbeperkings in te stel om die reeds lae reservoirvlakke te beskerm. Drie van die vier reservoirs in die dorp werk tans, verseker Fourie. Die vierde is al jare lank buite werking.

AfriForum het intussen ooreengekom om watertenks op te rig by diegene in die dorp wat van boorgatwater gebruik maak. Waterpunte sal gevolglik hier opgerig word sodat inwoners water by sekere punte kan afhaal.

Volgens Hennie Bekker van AfriForum, behoort mense in die dorp wat wel water het, water te bespaar sodat die waterdruk kan verbeter. Verder moet politieke druk op die munisipaliteit uit- geoefen word sodat hulle hul rekeninge sal betaal.

Volgens ’n inwoner in die dorp is die waterkri- sis ’n groot gemors. Dit is ’n moeilike situasie en veroorsaak baie ongelukkigheid onder inwoners. Hulle verstaan nie hoekom inwoners van die onderdorp water het en hulle nie. Kommer heers ook aangesien ’n skool en koshuis met bykans 300 leerlinge Woensdag heropen en die kinders gaan water nodig hê.

Fourie waarsku inwoners dat die huidige situasie nie binnekort opgeklaar gaan word nie. “Dit gaan maar kom en gaan.

Dis baie moeilik om te sê wanneer ons weer water gaan hê. Daar gaan beslis elke week iemand wees wat nié water gaan hê nie.” (Tania Heyns; Maroela Media)

bottom of page